Die eerste dag in die nuwe hoërskool was soos om in ‘n vreemde land wakker te word. Jy weet nie waar jy is nie, jy verstaan nie die taal nie, en almal kyk jóú aan asof jy ‘n kaart van die skool op jou voorkop behoort te hê! Graad-8 is allesbehalwe vervelig!… en dalk, net miskien, oorleef jy dit als!

Hoekom het hoërskole meer gange as ‘n doolhof, wonder ek? Ons het ‘n kaart aan die begin van die jaar gekry, maar dit het gevoel soos ‘n skattekaart waarvan die skatte nooit bestaan het nie. Ons het nog gedink ons is op pad Wiskunde toe, maar eindig op by die V-Blok, heel aan die anderkant van die skool (vra maar die seuns in ons klas). Die ergste? Probeer verduidelik aan jou pa wat die Wiskunde onderwyser is waarom jy laat is vir jou eerste klas.

Dan is daar nog die spieël-in-die-badkamer dilemma… elke graad-8, op een of ander stadium sal die groot spieël in die badkamer moet trotseer. Dit is nie net ‘n plek om jou hare te kyk nie – dit is waar die “ou toppers” met hul intimiderende selfvertroue kuier. Jy maak of jy jou hande was, maar eintlik kyk jy net hoe vinnig jy kan ontsnap sonder om iemand se spasie binne te dring!

Maar tussen al die gange en onsekerhede lê daar tog die opwindende ontdekkings en ervarings.

In laerskool het jou tuiswerk waarskynlik bestaan uit “Skryf jou ABC’s” en “Kleur die prent in”. Nou moet jy essays skryf oor temas soos “Die invloed van sosiale media op wêreldwye politiek.” Jy het GEEN idee wat jy skryf nie, maar jy voel belangrik terwyl jy dit doen.

Die snoepie… o die snoepie is ‘n wonderland! Daar is ‘n geheime kode om te oorleef: as jy agter in die ry staan, kry jy net ‘n droë toebroodjie. Maar as jy die voorste ry haal, wag daar tjips en slushies – die kos van die hoërskool-gode.

Dan is daar altyd die een klasmaat wat alles weet (en jou soos ‘n held laat voel as jy nie weet waar jou volgende klas is nie), die grapperige een wat die onderwysers konstant laat sug, en die stil een wat onverwags in al die atletiekuitdunne presteer. Dit is soos om in ‘n nuwe TV-reeks te wees waarin jy self die hoofrol speel.

As graad 8-leer jy vinnig dat jy nie alleen is in jou verwarring nie. Almal probeer maar net hul pad vind – om te oorleef – en dit is die skoonheid daarvan.

Jy GAAN iewers jou skooltas op die verkeerde plek vergeet, jy GAAN dalk per ongeluk die verkeerde toilette gebruik (daardie trauma bly lewenslank), jy GAAN nuwe karakters leer ken, maar jy GAAN ook leer om te lag!

So, vir al die toekomstige avonture wat vir ons nog voorlê – Valentynsbal, die Kleurfees, sokkies op die vierkant, en al die ander wat ek al van vergeet het – hou ek my kop hoog, dra my nuwe skoolbaadjie met trots (selfs al is dit drie nommers te groot – my pa sê ek sal in hom ingroei), weet ek dat ek die held van my eie avontuur is – al is dit ‘n avontuur vol vreemde gange en oorvol snoepie-rye.
Geskryf deur Ellene Anderson.