Vanoggend weer soos hoopvolle goue strale beurend oor die horison kom lê jou beeld dwars oor ons glim in ons lag, syfer jy deur ons asem, meng deur ons bloed, orden jy die liefde in die holtes van ons hart.  Jou klanke sag in ons oor en jou woorde soet op ons tong. Jou naam is Afrikaans.

Geskud uit die skoot van ‘n Nederlandse boot was jy “kitchen Dutch” en ‘n slawe taal, Khoi en Maleis in die keel geknoop maar jy’s ons moeder, ons mond geaard in Kaapse grond.  Ons taal was onderdruk en verkramp tot die kombuistaal wat jy eens was maar van daar het Jy weer opgestaan.

8 Mei 2025 vier ons jou oorwinningskreed, veels geluk bitterbessie dagbreek, bitterbessie son.  Jy’s ons “Sarie Marias” in die Eerste Vryheidsoorlog in 1880, jy behaal die top 10 in die tradisionele kategorie in die soeke na die Grootste Afrikaanse liedjie van alle tye naamlik “Die trein na Pretoria”. “Kook en geniet”  gebore uit die pen van SJA de Villiers in 1951 kry ‘n tuiste in meer as ‘n miljoen  Suid-Afrikaners wat dit die suksesvolste Suid-Afrikaanse kookboek ooit maak.

 

Alhoewel 95% van ons woordeskat van Nederlands kom is dit daai fraai Khoi en Maleisiese woorde soos bobotie, poenankies, blatjang, sosatie, piesang en doepa wat Afrikaans so spesiaal maak. Afrikaans is soos sagte spookasem wat smelt in ons kies.

Ons taal sal aanhou strewe en die sade sal ons aanhou saai.  Ons los vir jou die son, die see en ons taal “EK BELOWE JOU”.

Ons skink ‘n glas op jou, jy sal gepraat word sonder vrees.  Bring ‘n lied, bring ‘n woord want Afrikaans is ons koor.  Ons hart klop hallelujah want Jy’s ‘n taal wat sal bly staan.

Jou jare se sweet sal nie vergete gaan nie.

“ONS SALUEER JOU.”

Payten-Lee Linde